Kyk nou opnuut na laer rentekoerse

Hoewel die Reserwebank die terugkoopkoers die afgelope twee jaar agt keer verlaag het en die huisleningkoers gevolglik met ‘n yslike ses persentasiepunte vanaf 15,5% tot 9,5% gedaal het, is talle mense so besig om die gevolge van die resessie te verwerk dat hulle nie die inherente geleenthede in die eiendomsmark raaksien nie.

Dis is dus nou voordelig om die situasie in heroënskou te neem, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Om mee te begin, die daling in rentekoerse bespaar bestaande verbandhouers meer as R400 per maand vir elke R100 000 op hulle verband. En as jy dié besparing, of selfs net ‘n deel daarvan, elke maand in die verbandrekening inbetaal, kan jy jou verband ‘n hele paar jaar vroeër afbetaal en duisende rande in rentebetalings bespaar.

“Dit beteken dat jy nou ‘n kans kry om jou huis in ‘n baie korter tyd ten volle te besit en dat jy dan die maandelikse verbandbetaling vir ander uitgawes kan aanwend, soos jou kinders se opleiding of ‘n reis – of selfs nog ‘n eiendom.”

Terselfdertyd wys Everitt daarop dat mense wat tot op hede nie eiendom besit het nie, ook begin besef dat die heersende laer rentekoerse hulle ‘n gulde geleentheid bied om hul eerste huis te koop.

Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat aanvanklike laer rentekoerse dit makliker maak om vir ‘n huislening te kwalifiseer. “Om byvoorbeeld nou vir ‘n huislening van R500 000 oor 20 jaar te kwalifiseer, word ‘n huishoudelike inkomste van sowat R16 000 per maand vereis, in vergelyking met ‘n inkomste van bykans R23 000 twee jaar gelede.

“Boonop bied die meeste banke nou spesiale leningsprodukte aan eerste kopers en indien die bedrag wat jy maandeliks aan skuld moet betaal laag is en jou kredietrekord gesond is, mag jy vir ‘n 100% lening kwalifiseer, wat beteken dat ‘n deposito nie vereis gaan word nie.”

Hy wys daarop dat laer verbandbetalings dit ook in die langer termyn makliker maak om jou huis te bekostig en so druk op jou begroting te vermy en dat jy dus waarskynlik die fondse sal hê om jou eiendom in ‘n goeie toestand te hou – en daardeur die waarde daarvan te beskerm.

“Eiendomspryse in baie gebiede is verder steeds laer as die vlakke wat voor die resessie geheers het en marktoestande oefen afwaartse druk uit op groei – wat na verwagting nie die volgende twee jaar meer as 10% sal beloop nie. Dit beteken dat mense wat nou koop waarskynlik ‘n kleiner lening gaan benodig as wat voor die resessie die geval sou wees om dieselfde eiendom te koop. En gekoppel aan laer rentekoerse is dit ‘n geleentheid wat nie goedsmoeds oor die hoof gesien moet word nie.”

Article by: www.chaseveritt.co.za